Ja, vandag is een van daai dae.  Gister het glad nie ongesiens verbygegaan nie en dit het ook nie op ‘n noot van vrede en innige lewensvreugde afgesluit nie.

En vandag voel ek nie lus vir die dag nie.  Ek weet mens moet nie laat ander se woorde en dade mens so beinvloed nie, maar partykeer staan mens net magteloos voor mens se eie emosies en dan moet mens deurdruk.

Ek wil die seer in my hart uitskree
dit uitruk, verkrummel en strooi oor die see!

Ek wil huil en my voete stamp
tot die pyn, die brand uit my hart uitkramp!

Ek wil jou woorde met trane uitwis
maar dis ewig gegraveer op my liefde se kis!

Wat maak ek met my gedagtes warboel?
Met die vrae, die verwyte wat in my kop krioel?

Weet jy nie dat die tong se wrange vrug
liefde, omgee en respek verwrong in ‘n klug?

Plaas voor jou mond ‘n wag …
dink oor jou woorde en maak hul sag.

Voor jy weer jou hart uitwas
verstomp die lem van jou woorde se kras.

Ek het jou lief, dit moet jy weet!
Ek sal jou vergewe maar moeilik vergeet!