Dit is snaaks, die bekoring wat skoene van kleinsaf vir my ingehou het, en elke paar skoene in my kas, het my altyd soos ‘n ander mens laat voel.

 

Ek het al baie verskillende soorte skoene gehad.  Rooies, geles, pienkes, swartes, plattes met strikkies, hoeës met diamantjies, plakkies, klompe, sandale en stewels.  Noem ‘n soort en jy kan seker wees dat so ‘n tipe skoen al ‘n draai in my kas gemaak het.

 

My gunsteling skoene is ‘n paar swart wighakskoene, met borduursel en blinkers op die tone.  Daardie opreg ingevoerde skoene vanuit China.

 

Wanneer ek hierdie skoene aantrek is dit soos daardie Samsung advertensie.  Die een waar die man en vrou in die kamer besig is om aan te trek.  Wanneer die vrou haar skoene aantrek gooi sy haar hare so oor haar skouer en glimlag.  Julle weet mos.  Ek kan nie vir julle vertel hoe die selfoon lyk nie, maar die skoene wat sy aantrek, kan ek in die fynste detail aan jou beskryf.

 

Ja, dit is hoe ek voel as ek my swart skoene se bandjies om my enkels bind.  Dis asof daar ‘n lied van êrens begin speel.  Ek vergeet van alles en almal om my en ek verander in die mees aantreklikste vrou Suid van die Sahara.  My hare val nou weliswaar nie so golwend oor die skouers nie, maar hulle val.  My bene lyk nie so asemrowend soos hare nie, maar met ‘n paar Photoshop-sessies, behoort hulle tog deur te gaan as “nie te sleg nie.”

 

So bind ek daardie bandjies vanoggend om my enkels.  Trek die bloes ‘n bietjie afwaarts om die ou magie wat so effens wys, te verbloem, glimlag vir myself in die spieël en gee selfs so ‘n skelm oogknip gepaardgaande met ‘n skalkse glimlaggie.  Want ek het die skoene aan.

 

Hierdie skoene verander my uitkyk oor die lewe.  Hulle gee ‘n huppel in my stap, en vir een of ander onverklaarbare rede, voel ek soos ‘n koningin in hierdie skoene en die wêreld is my onderdane.  Niks kan my keer nie.  Ek is op die oorwinningspad met my getroue skoene wat my lei na paaie waar ek nie voorheen was nie.

 

As ek hierdie skoene aanhet, kan ek net nie my neus uit die lug uit kry nie.  Dit is amper asof ek iemand moet huur, om vir die skare mense om my, met ‘n wit handskoen te waai.  Ek is in die sewende hemel, my persoonlike skoen-geindusseerde “high.”

 

So stap ek, skouers agtertoe, neus in die lug die straat af.  Die musiek in my ore, die wind in my “golwende hare”, my byderwetse romp wat swiep, swiep teen my bene en KARPLAKS sloeg ek neer op die sypaadjie.

 

Jy sien net lipstick, mascara en ander meer privaatgoed trek oor die sypaadjie en met pyn wat soos messteke deur my knieë klop, skraap ek al my “belongings” bymekaar, terwyl ek onderlangs probeer loer wie my gesien het.

 

Dit is toe ek die netjies gepoleerde skoene voor my gewaar.  My ma het altyd gesê, “Jy kan ‘n man ken aan sy skoene.”

 

So vervang die warm gevoel wat om my hart sprei stadig maar seker die kloppende pyn in my knieë.

 

My oe gly stadig van die blinkswart skoene op teen die “designer” broek wat seker “gepress” is by die “drycleaners”, op na die blink gespe wat ‘n skaflike middel omgord.  Dan die syhemp, oor die adamsappel en dan oor die skerp ken en word dan vasgevang deur die diepblou oe wat my vraend aankyk.

 

“Kan ek help?” vra hy vriendelik.  “Het jy seergekry?”

 

“Ughm, nee, ja, dankie, nee . . .,”  stotter ek onsamehangend.  Al wat seergekry het is my trots natuurlik.  As my neus nie so hoog in die lug was nie, sou ek die dekselse boks raakgesien het.  O ja, en my knieë wat my nou weer sterk begin herinner aan my neervalslag.

 

Kan julle julself die prentjie indink?  ‘n Vrou wat helder oordag handeviervoet voor ‘n man op ‘n sypaadjie staan, en soos ‘n “lovesick puppy” in sy oe staar?

 

Dan, na seker ‘n paar dekades se oomblikke verby is, sien ek hy het sy hand na my uitgesteek.

 

“Gee my jou hand,” glimlag hy.

 

Ek sou rêrig eerder hierdie woorde iewers anders wou hoor, maar nou ja, hier is seker beter as nêrens.

 

Ai, toe ek my hand in syne sit, is dit asof daar ‘n trilling deur my lyf gaan.  Ek is totaal en al verlore.  Versigtig staan ek op.  Ek weet nie of ek nou regtig versigtig was, of was dit ek wat die oomblik langer wou uitrek nie.  Maar dit was ‘n wonderlike oomblik.  My hart het in my keel geklop.

 

Toe ek regop voor hom staan, haal hy sy ander hand agter sy rug uit met ‘n pragtige bos geel rose.  My gunsteling blomme!

 

“Ek het hierdie vir my vrou gaan koop,”  verduidelik hy.  “Sy was in die laaste tyd so anders en stil.  Ek het gedink dit sal haar opbeur.”

 

Ek het die rose uit sy hand gevat en teen my bors vasgedruk en die aroma diep ingeasem.

 

“Kom ons gaan drink ‘n koppie koffie hier by die koffiekroeg.”

 

Ek het hom woordeloos gevolg.  Hy het vir ons ‘n tafel gekry.

 

“Kan ek vir jou bestel?”

 

“Ja,”  stotter ek.  “Ek wil net gou ‘n draai gaan loop.”

 

In die badkamer haal ek my selfoon uit en skakel ‘n nommer.

 

“Erasmus en Kirstein Prokureurs,” antwoord ‘n jong stem.

 

“Dit is mevrou Klein wat praat.  Ek wil graag my afspraak met mnr Erasmus kanselleer.  Ek en my man het mekaar weer gevind.  Ek wil nie meer skei nie.”

 

“Is u seker mevrou,” vra sy.

 

“Ja, ek is seker.  Dankie.”

 

Toe keer ek terug na die tafel in die hoek waar ons altyd sit.

 

“Ons moet praat my vrou,” se hy terwyl hy my hand in syne hou.  “Ek is jammer ek het jou afgeskeep.  Jammer dat ek nie wou luister nie.  Ek besef ek was verkeerd.  Kan jy my vergewe?  Kan ons weer probeer?”

 

Met trane in my oe, pynende knieë en ‘n dankbare hart het ek natuurlik ingestem.