Ek
wonder as die hart werklik so ‘n eenvoudige orgaan was soos in hierdie
prentjie, sou ons so geworstel het met die idee van liefde?

Sou ons wou weet watter chemiese reaksie kom tot stand as twee mense
verlief raak?  Sou ons wonder wat veroorsaak dat daardie verliefdheid
groei na liefde?  Sou liefde so vinnig soos ‘n oogwink verander het in
haat?

Die hart is nie werklik eenvoudig nie, daarom kan liefde nie eenvoudig wees nie.

Liefde is soos ‘n driehoek.  Wanneer twee mense ontmoet is hulle ver
van mekaar en soos hulle mekaar leer ken, beweeg hulle nader aan
mekaar.  Tot mens die bopunt van die driehoek bereik, waar voorkoms nie
werklik saakmaak nie.  Waar dit nie werklik saakmaak dat die ander
persoon ‘n paar foutjies het nie.  Daar waar dit nie saakmaak dat daar
stilte tussen ons is nie.  Die punt waar ons saam kan lag, saam kan
huil, saam kan jubel en saam kan bekommerd wees.  Daar waar ons mekaar
ondersteun en lei, sonder om die ander een in boeie van liefde te bind.

Baie mense dink dat die toppunt van hulle verhouding die huwelik is.

Maar is dit werklik?  Is dit nie net die onderpunt waar ons werklik
moet begin werk daaraan om iemand in ons lewens toe te laat.  Om iemand
werklik te vertrou.  Om te besef dat jy nie meer selfsugtig jou eie
gewin moet najaag nie.  Dit is ‘n proses, en as mens werklik daarmee
vrede maak en daardie punt bereik, dan het mens die hoogtepunt bereik.

Die hart het nie verniet vier kamers nie.  Elke kamer bevat iets spesiaals vir die liefde tussen ‘n man en vrou.

Die linkerkantste onderkamer is waar respek gebere word.  Seker een van
die belangrikste bestandeel tussen man en vrou.  Maar sonder die ander
drie beteken dit ook nie veel nie.

Die Regterkantste onderkamer is die kamer van vertroue.  Dit is die
fondasie waarop elke verhouding gebou moet word.  En is dit nie ironies
dat hierdie fondasie soveel keer geskud word nie.  Dit is net die
sterkte van die fondasie wat bepaal of die fondasie gaan kraak en nie
meer instaat sal wees om die res regop te hou nie.

Die linkerkantste boonste kamer is vergifnis.  Om te vergewe van die
kleinste dingetjie tot die grootste.  Om te besef dat die persoon wat
jy op ‘n “pedestal” geplaas het, kan ook partykeer voete van klei hê.
Ons is nie perfek gemaak nie.  Allermins.  Anders het ons tog nie
iemand in ons lewens nodig gehad nie.

Die regterkantste boonste kamer is humor.  Sonder humor sal die huwelik
tog ‘n vaal ding wees om te aanskou.  ‘n Grappie hier en ‘n glimlag
daar, is wat die lewe in wonderlike kleure tooi.  Humor is die ding wat
sorg dat ons oor klein foutjies kyk en kan lag vir onsself.

Dan die bloed wat deur die hart vloei, wat die hart aan die lewe hou,
is geloof.  Geloof in ons Hemelse Vader.  Geloof wat sterk vloei, hou
die hart gesond.

En die ding wat sorg dat die hart gesond en ritmies bly klop is die
seksuele.  Daardie intieme oomblikke waar dit net julle twee is.  Waar
elkeen hom/haarself kan wees.  Waar ons onsself kan uitleef met die
vaste wete dat die persoon wat dit met ons deel, ‘n besonderse mens is,
wat spesiaal op ons pad geplaas is om ons harte volmaak te maak.