Die kafee se neonligte
kom speel hier teen my muur
En meng met die geluide
van ‘n klok wat slaan per uur

Die groentesmous op die hoek
skree luidkeels vir die mense
in geradbraakte taal
wat breek deur my grense

Die mure druk my vas
Die geluide maak my seer
en op die pavement is sy
wat oor vergete onskuld treur

Haar hare weggesteek
onder pruik van skel plastiek
Tandelose glimlag
vir die man wat sy wil truuk

Sy stal haar ware uit
in ‘n sjoe-sjoe eina rok
Wat klante van alle geure
stroperig na haar toe lok

Vir ‘n kort-kort oomblik
kan hul vergeet van sorge
En weer verdwyn in die nag
waar donker, bewyse verborge

Dan gaan staan sy weer
om vir ‘n nuwe kalant te tuur
En die kafee se neonligte
kom speel weer teen my muur