Winter hou ons in sy koue wit arm
Soen ons wasig teen die koue ruit
Maar hier binne, by jou, is dit warm
Wyl die winde, om hoeke, loeiend fluit.

Die kaggel knetter, knatter en kraak
Vlamme se skadu’s speel teen die muur
Knus in jou arms kom roep die vaak
Maar ek keer en stribbel, vir nog ‘n uur.

Buite slaap die wêreld, stil en gerus
Droom mooi drome oor die eerste lente dou
En ek weet stellig, dat winter nie sal blus
die liefde wat bly groei, tussen my en jou.

So soen my sag, soos ‘n vlokkie se val
Blaas jou warm asem stadig in my nek
Verdryf die koue, ek weet jy sal
Tussen ons, is daar vir winter, geen plek.

Sonder winter sal daar nie lente wees
Sonder herfs sal winter nie kom
Winter gee hoop vir plant en vlees
Sonder winter is die wêreld stom.