Hierdie brief het ek aan my man geskryf ‘n paar jaar gelede … en ek voel steeds dieselfde oor hom …

‘n Mens kan deur jou lewe gaan en soekend bly.  Soekend na liefde, aanvaarding, menslikheid en respek – en dit nooit vind nie.  Maar ek het.  Ek het dit en nog veel meer gevind.

In jou, het ek vrede gevind.  ‘n Vreugde ontdek wat ek nooit gedink het kan bestaan nie.  Jy het my hand gevat en my gelei op ‘n pad wat ek nog nooit voorheen betree het nie.  Die pad na myself.

Soveel dinge het in my lewe gebeur en met elke seerkry en mislukking, het ek myself dieper begrawe.  Ek het vir ander, ‘n sy gewys wat nie sou seerkry nie.  Die kant wat sterk is en nie omgee wat ander aan my doen nie.  Almal het my bewonder en opgemerk hoe sterk ek is en selfs gewens dat hulle so sterk kon wees.  Maar niemand het geweet van die seer wat ek so diep wegbêre nie.

Niemand het geweet van die aande wat ek in die stilte van die nag by my venster uitgekyk het en gehuil het omdat ek so vreeslik moedeloos en seer was nie.  Niemand het geweet van wat ek in my ronddra nie.  Ek dit was goed so.  Dit was my private pyn.  Ek het toegelaat dat mense my seermaak want ek was vuisvoos en so moeg dat ek net opgegee het.  Ek was nie meer lus om te baklei vir my plekkie in die son nie.

Maar toe verskyn jy.  Jy het my in jou arms geneem en my hart het op daardie ooblik sy rusplek gevind.  Jy het in my oë gekyk en alles daarin gelees.

Treetjie vir treetjie het jy laat ek my seerkry konfronteer en uitsorteer.  Jy het dit saggies gedoen, sonder verwyte en beterweterigheid.  Jy het jou hand vêr uitgesteek en my uitgelei tot ek in die son langs jou kon staan.

Wanneer ek in jou oë kyk, sien ek liefde.  Wanneer jy my hand vat, voel ek liefde.  Wanneer jy met my praat, hoor ek liefde.  Met jou, beleef ek wat ware liefde is.

Jy het my gewys dat dit reg is om net ‘n doodgewone mens te wees.  Jy het my geleer dat ek ook waarde het.  Jy het my lewe verander.

Jy het vir my die grootste geskenk gegee nl.  die vryheid om weer in myself te glo, myself uit te leef sonder vrese.  Om weer te hoop en die mooi in die lewe raak te sien.

Voor jy in my lewe was, het ek nooit sitlgestaan om die wonders rondom my te waardeer nie.  Maar jy het my oë oopgemaak.  Jy’t my gewys dat daar mooi rondom my is.

Jy is my beste vriend.  My anker en my kompas op hierdie lewenspad.

Dankie dat jy, jy is en dat jy in my lewe is.  Dankie dat jy, toe jy iemand nodig gehad het, aan my gedink het.

Dankie vir soveel dinge, maar bowenal – dankie dat jy my liefhet.