Nog vis nog vlees
So tussen die boom en die bas
En ek wonder oor die geraamte in my kas.

Waar trek ek die streep?
Koop ek maar die kat in die sak?
As jy jou liefde in my hart kom plak?

Kan jy my hart oopsluit?
Kan jy hier binne in my sielsasblik krap?
En die seer, druppel vir druppel uittap?

Sien jy my werklik raak?
In die hutspot van ons samesyn?
Of is ek besig om in die maalkolk te verdwyn?

‘n Klein bietjie hier
en ‘n klein bietjie daar
Die lewe, dit druk so swaar …

Is daar lig aan die einde van die tonnel?
Het ons donker wolk ook sy silwer rand?
Want hier in my hart, is ‘n liefde wat brand

Ek ken jou, ek ken jou goed
Ek ken die paaie, die draaie wat jou gedagtes loop
daarom is jy die een wat my pretensie kan stroop

Ek het jou lief, ek bemin jou siel.
My liefde jou kussing teen die lewe se hou
Jou liefde my lig teen die wêreld se grou

Nog vis nog vlees?
Tussen die boom en die bas?
Net liefde wat die legkaart laat pas.