En hierdie tjip is nie daai klein Simba tjippie waaroor die perfekronde aartappeltjie sing nie, nee dis sommer een van daardie groot Mc Cain tjips wat per helikopter op tafelberg neergesit word.  So groot is daardie tjip op my skouer!

En hoekom het ek daardie tjip op my skouer?  Omdat ek hom kan hê.  En ek dra lekker aan hom en hy het al so deel van my geword soos die vuvuzela deel is van Suid-Afrikaanse sokker.

Hoekom dink ek vanaand aan daardie tjip?  Miskien omdat die gedagtes van die lewe my ver teruggevat het en ek my lewe so op die keper beskou het en besef het dat dinge so anders kon wees as ek tjiplose besluite kon neem.

‘n Tjip kan ‘n lekker ding wees as hy so knarserig gaargemaak is en amper toegegooi is onder die 36 tamaties in een bottel tamatiesous.

Maar as ‘n tjip so op my skouer lê en en so half sawwerig raak omdat ek hom nie wil eet nie, dan is hy nie meer lekker nie.

Partykeer raak die skouer lam van daardie groot swaar tjip dat ek sommer so skuins bedonnerd raak of hy raak so warm dat hy verander in ‘n tranetrekker.  Maar sit sal hy daar sit en my koggel.

Daai tjip sal dinge in my oor fluister en ek sal luister en ek sal hom glo.  Partykeer laat ek iemand toe om daardie tjip vir ‘n rukkie af te haal, maar dis net ‘n stonde voor ek hom weer teruggryp en terugplaas waar hy hoort.  So wissel my lewe van tjipvoos tot tjiploos en weer terug na tjipvoos.  Dag in en dag uit.  Dis soos ‘n refrein wat oor en oor homself afspeel.  Sonder ophou …

Maar miskien, net miskien vandag … gaan ek daardie tjip van my skouer afgooi en op hom trap sodat daar van hom net ‘n vetkol oorbly.