Ek het ‘n filosofie dat ‘n mens se paadjie reeds vooruit bepaal is en dat jy die navigator van daardie paadjie is.  Ek glo daar is sekere mylpale vir ons gestel en ons gaan daar uitkom, maar ons besluit self hoe ons daar gaan uitkom en wanneer ons daar gaan uitkom.  Ons aksies en besluite bepaal of ons reguit en vinning die mylpaal bereik of, aan die ander kant, gaan ons ‘n ompad volg om daar te kom?

Deur mens se opvoeding word sekere riglyne vir ons gestel en ons kies self of ons die riglyne deel van ons lewens gaan maak aldan nie.  Mens kry natuurlik goeie riglyne en swak riglyne.  Jy moet self deur dit sif om te kyk watter op jou lewenspad gebruik gaan word.

Dan is daar buite invloede en gebeurtenissie wat veroorsaak dat jy ‘n besluit neem wat heeltemal strydig is met wat jy is en waarvoor jy staan wat geweldige nadraaie gaan hê en jou vir ‘n wyle van jou pad gaan ruk.  Maar wanneer die storms uitgewoed is, verskyn daai lewenspad weer soos ‘n ou bekende en jy kan hom weer stap.  As ons dus leer uit hierdie foute, kan ons die res van ons paadjie in relatiewe vrede stap.

My ma het altyd gesê – dis die mens wat jy anderkant uitkom wat saakmaak.  Dis die lesse wat jy uit jou foute leer.  Die erkenning wat jy kry as jy iets reg doen.  Alles maak van jou die mens wat jy is.

Elke mens wat jy op jou lewenspad ontmoet, vorm jou en elke gebeurtenis slyp jou.  En stadigaan raak mens al hoe sterker om die duwweltjies in jou pad te oorkom.

Jy self besluit of jou lewe ‘n lieflike musikale meesterstuk gaan wees of dalk ‘n ligte populêre liedjie.  Jy kan jou lewe so inrig dat dit ‘n soet ballade is of jy kan ‘n dramatiese heavy metal  inslag verkies.

Ek persoonlik verkies variasie.  Party dae is dit heavy metal – veral aan die begin van die maand wanneer huurders moeilik betaal en party dae is dit ‘n jazz wanneer ek daardie coding na ure se sukkel regkry.  Partydae is dit ‘n populêre liedjie wanneer ek niks het om te doen behalwe om myself op datum te bring met Mr Video se aanbiedinge en partykeer is dit ‘n ballade wanneer die lewe besluit om vir my ‘n wonderwerk te gee.

My gevolgtrekking is dus: as mens al hierdie genres bymekaar gooi, toonset jy wel jou lewe in ‘n lieflike musikale meesterstuk!