Met die dat almal die ‘bucket list’ ding doen het ek gaan teruglees op my LitNET blog en daar was twee van die goed wat werklik vir my uitgestaan het. Die ander was maar net frivolous.

Op my ‘bucket list’ was daar twee goed: 1. Ek wil my ma ontmoet en 2. Ek wil my dogter ontmoet.

Nommer een het op ’n manier waar geword deurdat ek van my familie ontmoet het. My ma is ongelukkig reeds 14 jaar gelede oorlede.

Dit was vir my ’n geweldige skok en dan ook die feit dat sy met al die vrae, wat ek natuurlik nog het, se antwoorde graf toe is.

Dit het my werklik aan die dink gesit en besluit dis nie iets wat met my dogter gaan gebeur nie en ek het die tehuis vir ongehude moeders gekontak om my besonderhede op datum te bring, sodat, indien sy my eendag wil soek, sy my maklik sal kan vind.

Ek het ook ’n brief geskryf wat ek beplan het om te stuur sodat hulle dit op lêer kan sit as sy nie nou reg voel daarvoor nie. Hierdie brief bevat alles wat ek dink sy sou graag wou weet en ek het gedink dat die brief maar daar kan wees as sy eendag besluit om my te soek en ek dalk intussen iets oorgekom het.

Maar vandag kan ek sê die brief is nie nodig nie. Ek gaan haar ontmoet in die week. Sy het blykbaar al ’n ruk terug oor my navraag gedoen en dis asof die Here net geweet het wanneer ek my stap moes neem.

Hy het geweet dat ek eers my familie moes ontmoet sodat ek ‘n gevoel kan kry oor die emosies waardeur sy gaan met die dat sy my gaan ontmoet. Ek moes eers ondervind sodat ek kan verstaan.

Was dit soos ek myself voorgestel het dit gaan wees as ek hoor my dogter wil my ontmoet? Nee en nogmaals nee! Ek het skielik hierdie oorweldigende emosionele golf beleef! Alles wat ek gedink het ek het verwerk en weggebêre het oor my gespoel en al wat ek kon doen was om te huil. Nie van hartseer nie, maar van verligting.

Verligting dat ek weet waar ek vandaan kom en verligting dat ek vir my dogter kan vertel hoekom. Wil ek myself verontskuldig? Wil ek dinge regmaak? Wat wil ek hieruit hê?

Ek kan nie myself verontskuldig nie. Ek het as jong vrou ’n fout gemaak en ek het die prys betaal. ’n Duur prys wat niemand, wat nie self daardeur gegaan het, ooit sal kan verstaan nie.

Kan ek dinge regmaak? Nee, ek kan nie. Gedane sake het nie keer nie. Ek kan nie tyd terugdraai en my besluite verander nie. Ek kan net vorentoe kyk en bid dat sy in haar hart sal verstaan dat ek dit vir haar gedoen het.

Al hierdie dinge wat op my pad gekom het, het my laat besef dat mens net jou lewe kan lei na die beste van jou vermoë en dat dinge wat moet gebeur, wel sal gebeur. Die mens wik – maar God beskik.

Ek onthou die gebeurtenis vandag asof dit gister gebeur het! Snaaks hoe ’n oproep en ’n epos alles wat onderdruk, weggepak en geïgnoreer was, weer so helder kan maak.

Ek onthou toe ek haar gaan groet het. Sy het daar gelê met sulke donker haartjies en pruilmondjie en ek onthou hoe ek gewens het dat ek vir ewig daar kon staan. Ek het haar opgetel en haar styf teen my vasgedruk totdat sy later van ongemak begin wriemel het. Op daardie oomblik het ek gedink ek gaan net daar begin hardloop met haar, weg van alles en almal. Ek wou haar nie daar los nie, maar ek het nêrens gehad om heen te gaan nie. Geen inkomste, geen huis ag … alles was net so teen my!

My ma was saam met my. Hoe kan ‘n dogter deur die donkerste uur in haar lewe gaan sonder ’n ma? Sy het langs my gestaan met trane in haar oë. Tot vandag toe weet ek dat sy net soveel seer gehad het as wat ek gehad het.

Daarna is ons na die kantore waar ek my handtekening op die papiere moes aanbring. So ’n klein handeling maar so ’n groot besluit. Ek is vertel dat ek ses maande (weke) – nie meer seker nie – gehad het waarin ek nog kon besluit of ek van besluit wil verander, maar ek het in my hart geweet dit was finaal. My omstandighede sou nie binne weke of maande verander nie en ek het geweet dat ek nie vir daardie prag dingetjie sou kon gee wat sy werklik verdien nie. ‘n Standvastige huis, ’n verantwoordelike ma en iemand wat vir haar kon sorg. Ek kon dit nie vir haar gee nie al wou ek hoe graag.

My lewe daarna was ’n donker maalkolk. Ek kon nie vrede maak met my besluit nie. Ek het nagmerries gehad van mense wat haar mishandel en ek kon haar hoor huil in my slaap. Ek het soos ‘n slaapwandelaar geleef. Een dag het in die volgende gevloei en ek het op ’n punt gekom waar dinge net te veel vir my geraak het en ja, ek het besluit om ’n einde aan my ‘sad’ verhaal te maak. Gelukkig het ’n vriendin my ontdek en ek het hulp gekry om dit te verwerk.

Dit was ’n lang pad. Ek dink wat dit vir my die moeilikste gemaak het, was dat ek nie myself kon vergewe nie. Nie net het ek vir myself hartseer veroorsaak nie, maar ek het ’n kind in die wêreld ingestuur wat een of ander tyd gaan dink dat sy ‘unwanted’ was. Ek het presies geweet hoe dit voel. Ek het geweet waardeur sy in haar lewe sou gaan, en ek het myself verwyt omdat ek, wat weet van aanneming en al die vrae en onsekerhede, dit aan haar gedoen het.

Terwyl mens deur die ‘motions’ gaan kan mens jouself wysmaak van vele dinge. Mens hoor in daardie tyd al die regte antwoorde soos, “Dis die regte ding om te doen,” en “Jy maak ander mense baie gelukkig,” en “Jy gee ’n groot geskenk aan ander mense,” en die beste een “Sy sal jou eendag dankbaar wees.”

Nou wonder ek, sal sy? Ek wonder wat deur haar gemoed gaan. Ek wonder of sy my haat oor wat ek gedoen het. Ek wonder of sy gelukkig was, ek wonder of die lewe haar goed behandel het. Daar is soveel dinge waaroor ek wonder.

Mag die Here ons genadig wees!