Dis nou ek in die foto!

Na 24 jaar gaan ek my dogter vandag 12h00 ontmoet.

Gister was ek opgewonde en vandag is ek ‘n emosionele wrak. My hart klop in my keel en die trane kom kuier elke 5 minute in die hoekies van my oe.

Hoe verduidelik jy jouself? Wat se jy? Sal ek haar teen my hart kan vasdruk en haar reuk weer ruik?

Ek weet ek sal nooit haar ma kan wees nie want sy het ‘n ma wat kniegies verpleeg het. ‘n Ma wat eerste die woord ‘Mamma’ gehoor en haar eerste onseker treetjies gesien het. Die ma wat trane afgevee het, suksesse en teleustellings beleef het. ‘n Ma wat vertel het van bytjies en blommetjies en wat die blos van kalwerliefde gesien het. Ek sal dit nooit beleef nie en ek sal altyd net soveel deel wees van haar toekoms as wat sy toelaat.

Hoe is dit dat ek gedink het dat ek alles verwerk het, maar vandag voel ek broos, my hart se geheime kamers oopgevlek?

Hoe is dit dat ek soos ‘n klein dogterjie weer op my ma se skoot wil klouter en my gesig in haar sagte nek wil druk? Vandag wil ek haar hande voel vroetel in my hare. Ek wil haar hoor se, “Mickey, everything will be fine. Let go and let God.”

Ek weet sy sit daar bo in die hemel en speel saggies vir my op haar harp en ek weet sy’t lankal vir Liewe Jesus gevra om sy vlerke om ons te vou.

Posted with WordPress for BlackBerry.