Ek was maar stil die maand alhoewel ek nou en dan ingeloer het.

Ja, met al die opwinding van biologiese familie ontdek, ontmoet, leer ken en bande smee – moet ek terselwertyd ook ‘n groot hartseer verwerk.

‘n Hartseer so groot dat dit my vir ‘n wyle van al my menswees en iets wat vir my belangrik is, wreed beroof het.

Maar mens moet jou glimlag opplak en instemmend knik vir al die cliche’s terwyl jy stemloos skree, “Los my in Vadersnaam net uit!”

Jy vrees vrae, die buitewereld en mense wat goedbedoeld probeer paai en troos.

Jy kry boodskappe op FB en BB en SMS’e wat wonder hoekom jy so stil is en noem dat hulle jou kwinkslae mis. Jy sit en kyk daarna en wonder self waarheen jou ware glimlag en innerlike geluk verdwyn het – en die grootste een is – jy wonder of jy dit ooit weer sal terugvind.

Die nag word jou vriend, die stilte jou vertroueling en die donker jou skans wat jou hart beskeerm.

Maar die lewe het nie genade nie! Jy moet aangaan, deurswoeg en op die pad op jou kniee bly, terwyl jy naarstigtelik aan elke cliche se halmpie van hoop klou soos ‘n drenkeling, want eendag sal die son weer skyn en die donkerwolk sal weer sy silwerrandjie he!

Want nadat die wonde se rowe afgeval het en net die letsels oorbly, is daar nog geloof, hoop en liefde en hiervan – vir my – is hoop nou die grootste!