Ek is mal oor Afrikaans. Dit is ‘n taal wat my laat dink aan ‘n vrugteslaai. Alle kleure en geure word lekker saamgemeng vir ‘n tong-tinteling-smaaksensasie!

Daarom luister ek graag na heuning stemme soos Theuns Jordaan en Matthys Roets. Ek verkneukel my gedurig aan die sexy rasper van Ray Dylan en Steve Hofmeyer en verluister my aan Laurika Rauch, hier en daar ‘n Lianie en Juanita en, as ek regtig my huis se fondasie wil laat tril van lekkerkry, die Lieflinge.

Ek kyk ook graag Afrikaanse films. Kon nie wag vir Roepman nie en het natuurlik eerste in die ry gestaan vir ‘n kaartjie. Alhoewel die storie ietwat stadig beweeg het, het ek hom baie geniet. Dan vergeet ek ook nie van die een waarin Bobby gespeel het en die een waar Karen Zoid in gespeel het nie – ek het mos Heimers, het nog nie als vergeet nie – so ek kan nie die films se name onthou nie.

Ek is nie ‘n puritein en voorstaander van als wat eg Afrikaans is nie, so dit pla my nie as Nicolis nie begelei word deur ‘n volwaardige orkes nie, dit traak my nie as Eden saamsing met hulle eie back tracks nie, solank die liedjie mooi woorde het (ook nie altyd nie) en ‘n lekker ritme, dan is ek gelukkig. Partykeer as ek dieperig voel dan soek ek die substansie van Theuns, Matthys en die in hulle klas. Maar in Afrikaans kan ek altyd iets kry wat my gemoed kan weerspieël – of as ek af is – my bui weer kan lig.

Daarom was ek vreeslik opgewonde om Saterdag te sien Kurt se fliek – Ek lief jou – is op die video winkel se rak. Ek het heel eerste my poffer handjie na hom uitgesteek en amper gebewe van opgewondenheid. Dis mos ideaal om so ‘n DVD uit te neem. Sien sommer die sangers en as jy gelukkig is, hoor jy van jou gunsteling liedjies.

By die huis gekom word hy sommer eerste in die speler gedruk en ek skuif dadelik onder my duvet in, Tab en snacks byderhand, net reg om die storie te geniet.

Maar tot my groot teleurstelling begin dit met ‘n Vlaamse deurmekaarspul! Ek het mos die DVD uitgeneem om ‘n storie in my eie taal te kyk! Die akteurs se spel was ook maar so-so. Aan die begin beweeg die storie so stadig dat die hele romantiese – ek raak verlief op die Belgiese meisie – gedeelte iewers ingeprop word dat dit heeltemal ongeloofwaardig is.

Gelukkig het ek ander DVD’s ook uitgeneem om die pyn van teleurstelling bietjie te versag en het sommer “Blink Stefaans” wat een Sondag saam met Rapport verskyn het, weer gekyk.

Toe dink ek, ek wens ek kan weer “Plekkie in die Son” in die hande kry. Dit was nou ‘n Afrikaanse fliek van formaat!