Die laaste dag wat ek laas hier gepos het, was 27 Oktober 2011 en daardie pos het met groot moeite gepaard gegaan want ek was siek.  Nie naar, griep of piep nie, ek was net pleinweg siek.  Te moeg om te praat, my arms op te lig.  Ek het gesukkel om te slaap, stort en titivate was moeite, ek kon nie dink nie en ek het gevoel my lewe het tot stilstand gekom en ek het nie geweet hoe vorentoe nie.

In hierdie toestand het ek gelukkig besef iets is drasties fout en is na my dokter toe.  Hy het onmiddellik depressie gediagnoseer en vir my pille voorgeskryf.  Ek het dit dadelik begin drink.  Die ‘Antidepressant’ in die oggend en slaappil in die aand.  Maar toe begin ek koud kry.  Nie die gewone ‘run of the mill’ koud nie, nee ‘n koue wat in my binneste kom sit het.  Ek het gebewe en my tande het opmekaar geklap.  Ek het op my tande begin kners.  Nie doelbewus nie.  Ek het net elke nou en dan gevoel my kake is seer en dan besef ek kners my tande.  In die nag het ek wakker geword van die geknersery en het vreeslike hoofpyne gekry.  My gewrigte het gepyn en my voete was so seer dat ek nie in die oggende op hulle kon loop nie.

Weereens is ek terug na die dokter.  Vertel hom van al die simptome en sê “Ek voel net nie myself nie.”  Hy vra toe – ewe vermakerig – “Soos wie voel jy dan.”  Ek kon hom nie antwoord nie.  Ek was net te moeg!  Miskien het hy ‘n grappie gemaak – ek weet nie – want my humor reseptors was ook nie lekker nie.  Hy besluit toe om die pille met ander te vervang.

Toe ek by die huis kom, lees ek die biljet wat in die boksie is.  Die newe-effekte is toe sommer al my simptome.  MAAR ek dink toe, hy is die dokter en hy weet beter.  Ek begin toe die goed drink.  Ek ontwikkel toe ook ‘n eetlus wat skrik vir niks.  Die een oomblik is ek so lus vir sout – amper soos iemand wat vir dae in die woestyn geloop het sonder water en dors is – en dan eet ek sout, skaars vyf minute later kry ek ‘n lus vir suiker – so erg dat ek seker Kaap toe sou ry om daardie lus te blus!  Slaap was heeltemal buite die kwessie, ek het sommer twee slaappille gedrink – en steeds gelê en rondrol.  Ek besluit toe om die Antideprisante ook in die aand te drink – want ek reken toe hulle kan dalk help dat ek slaap saam met die slaappille.  Maar dit was ‘n fout, ek kon toe gladnie slaap nie!  Ek het erger gebewe en dit het gevoel asof ek nie deel van die omgewing is nie.  Julle ken daai liedjie “From a distance, God is watching us.” maar in my geval was dit “From a distance, Maryke is watching life”.  Dit het gevoel asof my brein tot stilstand gekom het.  Ek kon nie konsentreer nie, kon nie werk nie en kon ook nie eintlik kommunikeer nie en die ergste is dat ek myself moes dwing om ‘n basiese ding soos stort – te doen.  En dan het ek net daar gestaan en die water oor my laat spoel want ek kon nie die arms lig om enige iets anders te doen nie 🙁

Een oggend toe ek opstaan, na ‘n nag van rondrol, was ek heeltemal van balans af.  Trane het geloop, maar ek het nie gehuil nie.  Ek het gebewe soos iemand wat kaal in Alaska staan, maar ek het nie koud gekry nie.  Ek kon kyk, maar ek kon nie sien nie – alles was ‘n blur.  Ek vra toe my man om my asseblief na ‘n ander dokter te vat wat ek van gehoor het want ek het letterlik gevoel ek gaan dood.

Ons is toe na die dokter toe.  Toe ek op die stoel voor haar plaasneem, vra sy wat is fout.  Ek het na my man gekyk … hy het geweet ek kan nie praat nie en het toe vir haar vertel.  Sy het my net een kyk gegee en gesê ek is totaal en al uitgebrand.  ‘n Chemiese wanbalans in my brein agv die erge stress wat ek die afgelope drie jaar ondervind het.  Die mooiste woorde wat sy gesê het was, “Dit is nie jou skuld nie!”

Sy het dadelik die ander pille gestop en ander voorgeskryf wat die wanbalans in my brein herstel en ander wat my help om te slaap.

Dis nou amper ‘n maand later en ek kan onomwonde sê, ek is besig om gesond te word.  Ek kan voel hoe my brein begin werk, ek kan voel hoe ek ‘ligter’ word en ek kan voel hoe alles weer begin sin maak.

Ek het nie die pos geskryf vir simpatie nie!  Dit is geskryf om vir julle te vertel dat ‘n tweede opinie nie te versmaai is nie!  Ek wil ook vir julle sê dat julle moet luister na julle liggame!  Moenie ‘doof’ wees as jou lyf vir jou sê daar is iets fout nie.  En as die een dokter nie kan help nie, gaan na ‘n ander.  Dit kan jou geen skade doen nie.

Hoop julle het almal ‘n geweldige lekker naweek!  En onthou om ‘n tweede opinie te kry as die eerste een nie werk nie!