Kwistig verf jy my lewe

in skarlaken rooi en donder blou

wat skel teen die mure

wat ek om my hartseer bou.

 

Meng op jou pallet van woorde

tot al die kleure bloei

ineen verstrengel

in my trane geboei.

 

Dis sommer net woorde wat gisteraand by my opgekom het voor ek gaan slaap het, en toe dink ek, ek moet dit iewers neerpen voor ek dit vergeet.

Die mens is maar ‘n vreemde wese.  Hier waar ek vannag voor my rekenaar sit en werk dink ek aan soveel dinge en skielik besef ek dat, alhoewel ek nie altyd so dink nie, ek wel al baie waarhede oor die jare geleer het.  Dis eers wanneer mens in soorgelyke situasies beland, dat jy eintlik besef dat jy al hierdie les geleer het.  Maar pas mens altyd daardie kennis toe?

‘n Paar jaar (baie jare) gelede, wou ek teen almal se raad, iets doen.  Ek het opgestaan vir my ‘regte’, baklei en hardkoppig besluit ek gaan dit doen – come hell or high water!  En vandag as ek terugkyk oor my lewe, besef ek dat elke keer dat ek so hardkoppig oor iets was, het dit gewoonlik in ‘n tragedie/ongeluk of so-iets uitgeloop.  Daarom haat ek dit as iemand sommer net NEE sê omdat NEE, NEE is of OMDAT EK SO Sê, of OMDAT JY ‘N VROU IS of vir enige ander onsinnige rede.  Want daardie persoon plaas my onmiddellik in ‘n situasie dat ek moet baklei vir dit wat ek graag wil doen/hê, en dan kom sit daardie gogga hier op my skouer en fluister, “Baklei maar, jy weet wat gaan gebeur as jy dit doen.”

So het ek eendag na ‘n bakleiery met my man in die kar gespring en besluit EK SAL ry na waarheen ek ookal wou gaan.  Maar die kar se neus was skaars uit die dorp toe oorval daardie vrees my en ek sien hoe skryf ek die kar af – en net daar draai ek om en gaan vra om verskoning en ons ry toe maar saam (Alhoewel hy nie baie gewillig was nie) en geen tragedie/ongeluk het ons getref nie.

Nou wonder ek, is hierdie vrese ongegrond, is ek kinderagtig of het ek iewers die emosionele pad byster geraak?

Ek haat dit ook om mense te oordeel (alhoewel ek dit in menslike swakheid partykeer doen) want as ek begin dink daaraan, dan dink ek – wat as ek dit eendag doen – en niemand het met my genade nie?  Of erger nog – dalk is daar iemand wat sy mes so in het vir my dat daardie persoon tot alle uiterstes sal gaan om my tot vergelding te bring.

Partykeer dink ek hierdie vrese is irrasioneel maar partykeer dink ek dit hou my op die regte pad.

Wat dink julle?  Het julle ook sulke vrese – asseblief sê ja, anders gaan ek nou begin bang word dat ek besig is om mal te word 😀