Ek lees vandag oor iemand wat sukkel om oor iets wat met hom gebeur het te kom.  En dit het my aan die dink gesit.  Ons almal beleef tragedies, ups and downs en as ek hier moet skryf oor als wat my getref het, sal wordpress se hele domain nie genoeg wees om al my treurmares te host nie.

Ek is al belieg en bedrieg, dierbares is van my weggeneem, ek het goed verloor, goed is van my gesteel, ek is al sleggesê en beskinder en baie ander goed.  Dan het ek ook al baie verkeerde besluite geneem en deur my eie toedoen in warmwater (partykeer kookwater) beland.

Ek dink die groot geheim is om te besef dat sulke goed mens kan en altemit SAL tref en dit opsigself is dalk nie die probleem nie.  Dis hoe ons die lewensgebeurtenisse hanteer wat die deurslaggewende rol speel.

Ja, jy kan vra hoe ek, wat net ‘n kort rukkie gelede geworstel het in ‘n diep donker put van depressie, nou hier kan probeer om ‘n uplifting boodskappie te plaas.  Die antwoord is eenvoudig – Been there, got the T-shirt, worn it, torn it, tie-dyed it, cut the sleeves off, cut holes in it, stretched it and even made a belly revealing sexy number out of it.  So het elkeen wat hier lees ook al die T-shirt deur al die lewensfases gedra en hom maar aangepas soos wat die lewe dikteer.

Wanneer tragedies (dit sluit nou enige moeilike situasie in) ons tref, is ons geneig om na binne te draai.  Dis nie ‘n slegte ding nie, maar gewoonlik draai ons na binne om weg te kruip ipv dat ons na binne draai om antwoorde te soek.

Ons weet dis ‘n gegewe dat alles in die lewe van verbygaande aard is en ja, selfs die slegte.  Dit is wat ons doen in tye van sleg wat bepaal hoe jy weer die goeie gaan ’embrace’ en joune maak.

Dit is waar ontvanklikheid inkom.  Terwyl ons na binne gedraai is, moet ons ons gedagtes probeer rig op voorbereiding.  Voorbereiding sodat ons ‘willing’ en ‘able’ sal wees om nuwe geleenthede aan te gryp en onsself uit die donker putte van die lewe te lig.  Ongelukkig is dit nie ‘n maklike proses nie en mens kry dit selde op hule eie reg.  Daarom is dit belangrik dat jy iemand het wat kan luister, nie noodwendig raad gee nie, maar net kan luister en so nou en dan uhm en ahhh sodat jy kan weet die persoon luister.  Dis hoe jy stadig maar seker genees en dag na dag, treetjie na treetjie daai put uitklim om weer in die son te staan en die lewe weer vierkantig in die oë kan kyk.

Jy moet ontvanklik raak vir hande wat uitgehou word, ore wat luister, lippe wat praat en skouers wat onder jou moeggehuilde kop ingedruk word.  Jy moet bereid wees om jou oor te gee aan arms wat troos en as iemand sê ‘Ek is hier’, gebruik dit.  Want, al dink jy jy het dit nie nodig nie, weet God van beter en dit is Hy wat daardie mens vir jou stuur.

Jy moet ontvanklik wees, dis al.  Want al daardie positiewe energie gaan krap en grawe in die negatiewe en uiteindelik sal die dag aanbreek wanneer jy reg is om weer in volle oorgawe te leef.