Dit is eintlik hartseer dat mens eers op ‘n rype ouderdom besef, dat dit wat jy van jouself gedink het op skool, nie noodwendig was wat ander van jou gedink het nie.

Hierdie skrywe word gemaak na aanleiding van drie gebeurtenisse nl:

  • ‘n Reaksie op een van my status opdaterings op Facebook
  • ‘n Friend request op Facebook
  • En ‘n ‘best in class’ nominasie op Schoolfeed

Ek was nog altyd ‘n Idols, (nie hierdie jaar nie) en Supersterre (toe dit nog gewys het) fanatikus en gereeld status opdatering daaroor gemaak op Facebook en eendag, heel uit ‘n onverwagte oord, maak iemand hierdie opmerking:  Maryke, as Idols in ons tyd was, sou jy beslis ‘n wenner gewees het.

My reaksie?

Ek het so ‘n diep hartseer gevoel hier in my binneste want sien, ek het hierdie droom van kleintyd gehad dat ek graag ‘n sangeres wou word.  Ek het deur my skoolloopbaan (wat nie ‘n dawerende sukses was nie) liedjies geskryf en dan weggebêre waar niemand dit kon sien nie.  Ek was wel in die skoolkoor, deelgeneem aan kunswedstryde (en heelparty goue sertifikate gekry) maar self nooit geglo dat ek enigsins goed genoeg was nie.

Na skool het die lewe sulke ‘curve balls’ (agv my eie swak besluie) gegooi, dat ek vir jare nooit gesing het nie.  Maar ‘n paar jaar terug, het ek bietjie begin karaoke en later ‘n CD gemaak (net privaterig en niks fancy nie) maar dis waar dit gebly het.

Vandag wens ek dat juis meer sulke tipe opmerking  op skool gekry het – toe ek agv gebeurtenisse (lees hier die bloginskrywing wat ek daaroor gemaak het) – ‘n ‘all time low’ beleef het.  Ja die een juffrou wat my ligpunt was, het my ondersteun, maar mens glo mos nie as tiener die ouer geslag nie.

En terwyl ek hier tik, dink ek ook, plaas het ek ander mede skoolleerlinge meer ondersteun en ge’boost’, want dit sou sekerlik meer beteken het, as ek meer tyd daaraan bestee het ipv om emosionele energie te vermors deur daagliks my onsekerhede weg te steek agter die rebelmasker.

*****

As gevolg van my werksaamhede op Facebook kry ek redelik ‘Friend requests’ en wanneer daar een kom met die volgende boodskap:

Hi Maryke

Nadat ek baie lank sterk gestaan het teen die facebook verleiding het ek nou uiteindelik Facebook gekry en die eerste persoon wat ek gesoek het, was vir jou.  Ek het al die jare gewonder wat geword het van die girl met die groot hart en nog groter glimlag….

dan kan jy my behoorlik omtik met ‘n veer!  Veral gegewe die feit dat ek die persoon op skool as hiper konserwatief beskou het en ons nie werklik vriende was nie.  Vir een of ander rede het ek altyd gedink dat ek nie in sy vriendekring aanvaar sal word nie en dat daardie groep afgekyk het na my en niks van my hou nie!

Sou dit nie wonderlik gewees het om toe te geweet het wat hy dink.  Nie om ‘verlief en verlore’ te raak nie, maar net om te weet dat iemand gedink het ek het ‘n groot hart.  Om te weet dat iemand dwarsdeur die rebelmasker sien en besef daar is iets moois daar binne.

*****

So het ‘n persoon op Schoolfeed my genomineer as “best in class – creative” genomineer.  En dit nogals van iemand wat ek dit nie van verwag het nie.  Maak nie saak dat niemand anders daarop ge’vote’ het nie, net die feit dat ek genomineer is, is vir my genoeg.

Ek het nie eers besef dat iemand op skool gesien het dat ek eintlik ‘n kreatiewe mens is nie … maar iemand het gekyk en raakgesien.

*****

So vandag wens ek dat elke skoolkind homself (geld vir meisies ook) sal sien deur ander se oë en besef dat ander die mooi/goeie/uitstaande kwaliteite in hom raaksien en dat hulle siening van hom 99% van die tyd beter is as sy eie siening van homself.

Selfbeeld