Van my ‘verlede’ nuwejaars voornemens was goed soos, ek gaan gewig verloor, gaan baie geld maak, ophou rook, minder chocolates eet en nie meer elke Vrydag ‘n Sally Williams verorber nie.  Nodeloos om te sê, meeste van hulle het nie eers die 2de Januarie oorleef nie.  En snaaks genoeg, die feit dat ek nie die voornemens deurgevoer het nie, het nie veel aan my lewe verander nie.

Daarom het ek die jaar besluit dat ek meer na binne gaan kyk vir my voornemens.

Die eerste – en seker die belangrikste voorneme vir my – is dat ek ontslae gaan raak van mense wat nie ‘n positiewe emosionele invloed op my lewe het nie.  Ek skuld hulle niks, en hulle skuld my niks, daarom sal dit beter wees dat ons paadjies skei.

Die tweede – ek gaan werk aan my innerlike vrede.  Ek gaan harder daaraan werk om die kaf van die koring te skei.  Dinge wat nie ‘n invloed op my lewe het nie, hoort nie in my lewe nie.

Die derde – ek gaan moeite doen om uit te reik na die mense vir wie ek lief is.  Ek gaan bietjie uit my kokon breek  en meer daar wees vir hulle.

Die vierde – ek gaan meer tyd spandeer aan die dinge wat ek geniet soos musiek, skilder en skryf.

Miskien as ek die vier goed regkry sal die ander dinge net in plek val.

Ek dink dat die beste voorneme vir die nuwejaar eintlik moet wees – Ek wil skuldloos leef.

As ek die wat nie ‘n positiewe invloed in my lewe het nie, uitsny, sal ek nie meer my misnoeë, hartseer en ongelukkigheid aan hulle verskuldig wees nie.  As ek innerlike vrede het, skuld ek myself niks.  As ek uitreik na mense vir wie ek liefhet onthef ek myself van enige skuldgevoelens omdat ek nie daar is vir hulle nie.  As ek meer tyd aan die dinge spandeer wat ek liefhet en geniet, sal ek nie meer in skuld wees met myself nie.

Sodoende gaan ek 2013 skuldvry in.  Dilemma opgelos.

Hoop julle 2013 hou vir julle baie meer in as wat julle ooit kon verwag of wens voor.