So sit ek die naweek en dink.  Daar is soveel dinge wat in die wêreld gebeur terwyl ek rustig – soos ‘n uitgespande donkiekar – op my bank lê en TV kyk!  Dit is eintlik verbysterend …

Iewers skenk iemand geboorte terwyl iemand anders iewers van ‘n geliefde afskeid neem. Iemand koop ‘n nuwe Laptop terwyl elders, een gesteel word (dis nou ek daai wat die vakansie twee inbrake moes beleef), mense word in Frankryk geskiet, Boko Haram maai 2 000 mense af, Durban word gekroon as die beste stad in Suid Afrika, die ANC hou partytjie en so kan ek aangaan … dit alles terwyl ek rustig in my huis sit.

Toe tref dit my … ons is elkeen maar net ‘n hoenderhaan wat koning kraai (soos Lewies Mymer se gans) op sy eie kluit. Party mense se kluite is bietjie groter met ‘n paar sub kluite – elkeen met sy eie hoenderhaan wat kraai, en dan is daar ander – soos ek – wie net die gewone allerdaagse kluit het, maar ek kraai en rumoer op hierdie kluit dat dit ‘n vreeslike affêre afgee!

So loop die gedagtes aan en aan en ek besef dat, alhoewel ek net ‘n doodgewone kluit het, dit my kluit is en ek wel my kluit kan omtower in ‘n kluit ter kluite! Hier kan ek ‘n verskil maak, ek kan vrede teweegbring en ek kan sorg dat dit ‘n sukses is. So kan ons elkeen ‘n verskil maak deur te skrop en te spartel en aanhou probeer en probeer tot ons dit regkry. Ons kan hard werk sodat ander kan sien wat ons regkry en dan ons voorbeeld volg – wel as mens nou ‘n positiewe verskil sou maak.

Maar ek dink partykeer raak ons so ingenome met onsself dat ons net aanhou kraai en op die einde van die dag nie veel regkry nie. Dis sulke tye wat ek dink die gekraaiery raak so ‘n gefuif en lawaai dat Die Here ‘earplugs’ in sy ore druk en wonder wat Hy gedoen het om dit te verdien!

Mag jou gekraai vandag soos musiek in Die Vader se ore wees en mag dit niemand de hoenders in maak nie!

Sommer een aan geteken toe ek nie kon slaap nie.

Sommer een aand geteken toe ek nie kon slaap nie.