rain

Ek is mal oor reën. Die druppels wat val op die dak, die geplons buite, die reuk, die wind wat waai … sommer alles van reën is vir my blerrie lekker! Ja, selfs met die eerste reën van die seisoen gaan staan ek buite in die reën, en sonder enige bekommernis oor my hare, grimering, klere staan ek daar en trippel rond soos ‘n angstige perd voor ‘n derby. Toe ek jonger was … het ek dit die reëndans genoem, maar ouderdom het nogals ‘n manier om ‘n dans in iets anders te verander. Die eens grasieuse arms verander in ‘n benoude geklap van vlerke onder die arms, die seer heup laat die statige danspassies lyk soos iemand wat twee rye spore loop en die stomende ‘belly dance’ is bloot net ‘n verskuiwing van gewig van links na regs. Maar, dit bly lekker om daardie druppels te voel. Te voel hoe die hare natword, die klere swaarder … is net lekker.

Die ou cliche van ‘dit was alles skoon’ steek maar vas hier in die kop en ek glo elke keer – soos ‘n kind – dat alles na die reën sommer honky dory gaan wees. Geen ‘doom and gloom’ vir my as dit by reën kom nie. Nee, altyd ‘n blye verwagting van iets goeds of nuuts.

Reën bly vir my ‘n wonderwerk, en ek dink ek het al hierdie storie vertel. Toe ek in die laerskool was (kan nie die presiese jaar onthou nie) onthou ek dat ons gebuk gegaan het onder droogte. Ons gemeente het ‘n biduur uitgeroep. Die dag het toevallig geval op die dag dat my beste maaitjie haar verjaarsdag partytjie gehad het. As ‘n kind, was ek nie baie gelukkig hieroor nie, want, ek moes eers die biduur saam met die familie bywoon, voor ek na die partytjie kon gaan. Maar in daardie dae was die ouer se woord wet, en so sit ek toe in die kerk saam Ma, Pa en die broers en susters. Daar het baie mense gebid, jonk en oud en die uur het soos ‘n ewigheid gevoel. Einde ten laaste, toe die laaste omie sy gebed afgesluit het met ‘n driftige “Laat U wil geskied. Amen”, is ons vrygelaat – soos ons kinders dit genoem het – en kon ek die partytjie bywoon.

Ons meisiekinders het ons baaikostuums aangetrek en opgewonde swembad toe gehardloop. In daardie dae was swembaddens mos maar net iets wat beskore was vir ‘n paar uitgesoektes, en daarom was swem partytjies sommer baie gewild. Met opgewonde gilletjies het ons geduik en gebom vir ‘n vale. Maar ons opgewondenheid was van korte duur. Want skielik het daar wolke saamgepak. Nie wolkies so groot soos ‘n man se hand nie. Nee, groot, swaar en donkergrys wolke en voor ons die chloor water uit ons oë kon vee, het die eerste druppels begin val en teleurgesteld het ons maar die res van die partytjie in die huis gevier.

Maar een ding is seker, daardie dag se wonderwerk, as gevolg van gebede, sal my altyd bybly. Die dat ek altyd lief sal bly vir reën, want vir my is dit die vergestalting van die belofte … dat as mens opreg is en glo soos ‘n kind … sal Die Here voorsien.

Hoop jou dag is gevul met wonderlike reën wat skoon was, nuwe lewe gee en bowenal jou sal laat bly glo dat elke donker wolk ‘n silwer randjie het.