esclavitud

Van jongsaf was ek mos maar so ‘n effense rebel … hier en daar teen die prikkels geskop, dan en wan ‘n lawaai gemaak en oor die algemeen, iemand anders se grimmigheid om my hals gehaal. Maar dit was maar ek.

Ek onthou die eerste slaafse navolging op skool (partykeer ook maar dankbaar dat mens – soos die jare met mens aanstap – nie altyd alles kan onthou nie) die stertjie in die hare. Jitte, elkeen van ons wou ‘n stertjie hê, vandag kan ek nie eens onthou watter pop ikoon dit mode gemaak het nie, al wat ek vandag kan onthou is, dit het maar taamlik weird gelyk (alhoewel ek nie toentertyd gedink het dit was weird nie).

In my standerd nege jaar was Michael Jackson nogals groot. Veral die handskoentjies, sonder vingers, wat hy gedra het. Ek dink elke tiener in daardie jare wou daardie handskoentjies gehad het.

Dan was daar ook daai tekkies met die polities inkorrekte naam. Sulke rooies, omtrent almal het daarvan gehad ook. Dit was DIE mode bykomstigheid van die eu.

So leef ons ons lewens en dis amper asof daar elke dag iets in die media verskyn wat, voor jy ‘n oog kan knip, ‘n fenomineem raak en elke persoon streef om so te lyk, of daardie item te besit, of daardie dieët te volg, of daardie proses te volg in die opvoeding van hulle kinders en so ploeter ons voort. Ons raak slawe van die ‘powers that be.’

Die een dag is enige kos sonder vet koning … en jip … die volgende dag word ‘lean mince’, vetvrye joghurt en melk ensovoorts in die abis van verworpenes gewerp. Want skielik moet jy vet eet, drink, droom en sover jy kan, in jou dieët voeg. Dan praat ek nie eers van die nederige blomkool, wat eens net geëet was as dit toegegooi was onder ‘n dik laag kaassous – nie. Die nederige groentesoort het nou die kroonwild van groente geword. Ek sien party mense kla op Facebook dat hulle tot R25 vir ‘n blomkool betaal … want sien, dis mos nou die bantingiaan van banting.

‘n Paar jaar terug het mense begin om daardie oulike familie stickers op hulle karre se agterruite te plak. Nou word mens oorval met ‘status updates’ oor hoe om dit te verwyder.

Ons jonges van vandag volg ook die popsterre na. Kyk, as ek sien wat party van die vrouens op die verhoog dra, dan raak ek bang! Maar met die voortvarendheid van die jeug en hulle onverskrokke houdings, trek hulle vandag net so min aan en geen haan sal daarna kraai nie (seker omdat sy kraaistem weggeskrik is oor alles wat uithang en oorpof).

Gister nog was grys uit, as die grys begin wys dan het jy begin met die doosdye (dankie Ans van Facebook vir die benaming) want “I’m gonna wash that grey right out of my hair” was die in ding. Vandag is grys weer in en omtrent almal, jonk tot oud, pronk met ‘n grys haredos.

Ek onthou my eerste selfie wat ek op Facebook geplaas het … maar in daardie dae was daar nie ‘n spesiale naam vir dit nie. Vandag is dit iets wat jy moet doen, want anders is jy nie in nie. Maar alreeds is daar gerugte wat die rondte doen wat beweer dat mense wat selfies neem, een of ander sielkundige afwyking het. Die enigste afleiding wat ek hier kan maak is dat – indien dit waar is – 99.999999% van die wêreld bevolking dan ‘n sielkundige afwyking het … die gevaarligte begin flikker en ek gaan steek my selfie stick bo in die kas agter al my vorige modeblapse weg.

Maar ek – ek volg niks na nie – ek volg my eie lewe – my eie ‘terms’. Maar verskoon my, ek moet gou die grys in die hare gaan inwas, ‘n blomkooltjie gaan koop vir vanaand se ete, ‘n cleavage displaying bloesie gaan koop, en terwyl ek daar is sommer ‘n foto’tjie neem van die mooi blomme met my tablet wat kan omswaai en my gesig in die prentjie plak terwyl ek rondsoek vir ‘n ‘magic’ middel wat sticker gom kan afwas. ‘Bye for now’