Iewers het ek gelees dat ‘n knaende vrou soos ‘n druppende kraan is. En glo my, ek kan derrruuup as ek die dag lus het. Dan ook nie sommer enige gedrup nie, nee, daai drup met die poi-ing agterna – net vir ‘good measure’ om my punt sterker oor te bring.

Hulle sê ook dat – soos ‘n paartjie ouer raak – hulle al hoe meer ‘private jokes’ het en dat hulle, as iets gebeur, mekaar so ‘n kykie kan gee en saam uitbars van die lag, sonder dat enige iemand anders weet waaroor dit gaan.

So is dit met my en my liefste wederhelf. Daai spesiale ‘privaat oomblikke’ wat ons net nader aan mekaar bring. Ouer paartjies verstaan mekaar ook beter en slegte eienskappe word aanvaar en selfs partykeer oor gespot. ‘n Goeie voorbeeld is: Ek en my wederhelfte kyk baie ‘moord en doodslag’, dis nou die kanale met ‘terrible twins’, ‘who did I marry’ ens, wanneer ons uitgekyk is aan die herhalings op KykNet. So gebeur dit eendag dat ‘n vrou haar man vermoor en in klein stukkies opkap om van hom ontslae te raak.

Ek draai toe na my liefste mens en sê, “Jy hoef nie te bekommer dat ek ooit so iets aan jou sal doen nie.”

Hy bly so ‘n rukkie stil (ek weet nie of dit uit verligting of angs was nie) en vra, “En hoekom nie?” Hopende dat ek ‘n ellelange liefdesverklaring gaan doen.

Ek antwoord ewe sedig, “Wie gaan die gemors skoonmaak?”

Hy het lekker gelag en gesê, “Ja … skoonmaak is nie een van jou sterk punte nie!”

En dit is waarvan ek praat. Daai oomblikke wanneer jou swakpunt uitgelig word maar dit loop nie uit op ‘n bakleiery nie.

Kyk, die man het sy foute (*fluister* ek ook) maar een ding wat ek van hom kan sê is, hy is baie bedagsaam. En dis nou waar die ‘bun’ storie en die druppende kraan inkom.

Nou die dag is ek baie besig. Geen tyd vir kosmaak of sulke alledaagse huishoudelike banaliteite nie. Hy weet ook dat as ek verdiep raak in my geroesmoes van werk, dan moet hy nie pla nie. Daarom het hy daardie dag met so ‘n verleë glimlaggie kom sê dat hy ‘buns’ en ‘viennas’ gekoop het – want dan hoef ek nie kos te maak nie.

Ek het toe vir ons gaan ‘hotdogs’ maak, maar die flippen tong se wag was mos op verlof! “Die buns is ook maar lekker plat.” het ek so ewe opgemerk.

En dis toe ek daardie flietende seer in sy oë sien … en ek half onbeholpe daar staan en besef … dit was totaal en al onnodig!

Die gedagtes het begin rondskarrel om die regte woorde te kry om te sê … en uitendelik kon ek net mompel … “Die flippen mense, plaas wag hulle dat die buns afkoel voor hulle dit in die sakkies sit!”

Ek het geweet, in my hart van harte, dat dit nie regtig gehelp het nie en toe sommer ‘n hap gevat en gesê, “Maar dis flippen lekker.”

Hoekom … o hoekom moes ek dit noem? Hy het net gedink aan my! Hy wou net behulpsaam wees, maar ek moes mos wys dat ek beterweterig is!

Wie – op die ou-einde van die dag – gee om dat ‘buns’ plat is … as jy iemand aan jou sy het wat jou verstaan, wat daar is vir jou, wat jou lewe inkleur?

Die buns is plat skat … maar ek gee nie om nie!!