Het dit jou al opgeval hoe arrogant die ‘haves’ teenoor die ‘have nots’ kan optree?

Vandag kan ek sê dat ek nie meer heeltemal in die ‘have-nots’ kategorie val nie, en ook nie heeltemal in die ‘haves’ nie. So gemaklik tussenin, huis, kar, kos in die kas, klere … alles wat mens nodig het vir ‘n gemaklike middelklas bestaan.

‘n Tikkie ‘classy’ hier en ‘n tikkie ‘kitch’ daar, so lekker mengelmoes van goed wat my gelukkig maak (nie goed wat deur tydskrifte voorgekryf word nie).

Vanoggend lees ek so deur kommentare en ek onthou my ‘have-nots’ dae. “Jy moet jou kar gereeld laat diens” … “Ja .. en nogals met wat? Daardie rande wat ek op my karretjie spandeer kan eerder vir my kinders skoolklere koop.”

“Jy moet jou kar se lisensie vervang (fluister – het lank met ‘n ‘amper opregte motor lisensieskyf’ gery) daardie paar rand het ‘n ander gaatjie toegestop.

“As jy nie versekering wil hê nie …” daardie geldjie het my kinders se skoolfonds betaal.

So kan ek ‘n moerse lang lys maak van goed wat die ‘haves’ voorgestel (amper half aangedring het) ek moet doen, terwyl dit vir my op daardie stadium heeltemal onmoontlik was. En vandag, toe ek ‘n paar van die arrogante kommentare lees, toe borrel ek van binne en ek onthou hoeveel keer ek gedink het ‘Hou jou snobbistiese smoel’.

Gaan tog sag om met ander se gevoelens. Voor jy nie weet wat in hulle huise aangaan nie, moenie sommer aannames maak en uit onkunde ‘goedbedoelde’ advies gee nie. Want, wat dalk in jou wêreldjie ‘n allerdaagse is, is in iemand anders se omstandighede ‘n onbereikbare droom.