Hierdie is die era van gedwonge skuldgevoelens.

Ons moet skuldig voel as ons ‘n plastiekbottel meer as een keer gebruik want daar is een of ander middel daarin wat sleg is vir ons … maar bewaar jou siel as jy plastieksakke gebruik vir inkopies.

Jy moet skuldig voel as jy nie jammer voel vir die vullisgrawer met sy moerse wa wat die hele pad vol loop nie, maar bewaar jou siel as jy empatie het met ‘n dwelmverslaafde.

Jy moet skuldig voel as jy so nou en dan nie ‘n rand of twee het vir die motoroppasser nie, maar bewaar jou siel as jy jou tiende eerder vir die boemelaar gee as vir jou kerk.

Jy moet by die huis bly in jou pj’s om jou honde, katte, hoenders, visse op te pas (alhoewel daar verskeie middels beskikbaar is om hulle te help) in plaas van om na vuurwerke te kyk want anders is jy ‘n dierehater. Ek mis vuurwerke sonder skuldgevoelens.

Jy moet gaan stap vir jou gesondheid, maar jy word uitgekryt as ‘n rassis as jy nie wil gaan stap nie, want die omgewing waarin jy jou bevind in vervuil van gure karakters wat hulle met onderduimshede besig hou. Ek mis om te gaan stap. Ek mis kinders se laggies in die dorp se parkies. Ek mis oop deure en vensters wanneer ek slaap met die nagbries wat oor my wange streel.

Jy moet skuldig voel as jy nie die deur wil oopmaak vir mense wat beweer hulle is van munispaliteit om een of ander iets te kom check nie, want dan is jy bevooroordeeld, maar wanneer jy jou deur toemaak en Facebook oopmaak, dan begroet ‘n foto van ‘n wreedaangevalle boer jou.

Jy moet skuldig voel as jy geld spandeer op ‘n partytjie – want daar is mense wat swaarkry.

Jy moet skuldig voel as jy nie elke krummel op jou bord eet nie, want daar is kinders wat honger gaan slaap.

Jy moet skuldig voel as jy ‘n hondjie vat by iemand wat hulle weggee want die DBV het ook oulike hondjies (been there, done that … will certainly never do it again).

Jy mag nie water uit die kraan drink nie … jy moet dit koop in plastiekbottels wat die aarde vervuil.

Jy moet freerange eiers ten duurste koop want die ander goedkoperes se hoenders loop nie vry rond nie. Jy moet groente/vrugte koop wat organies gekweek is, al maak dit ‘n groter duik in jou beursie as die nie-organiese produkte (alhoewel ek nie die logika agter dit kan verstaan nie – geen gif of chemikalieë beteken sekerlik minder insetkoste)

Ons leef dag vir dag met gedwonge skuldgevoelens wat op ons afgedwing word deur die gemeenskap … dus is my halfeu voorneme om my lewe te lei soos ek goeddunk … bedamm al die gedwonge skuldgevoelens waarvoor ek nie gevra het nie. Hoop jou lewensjaar is ook sonder skuldgevoelens waarvoor jy nie gevra het nie.