Moenie my probeer lei nie .. ek is nie ń volger nie.
Moenie my volg nie .. ek is nie ń leier nie.
Loop net langs my en ons kan ..
Mekaar herontdek …
Die kurwes van die lewe streel
op heuwels se pieke dans
in dale verdrink in dou.
Ons kan weer die sterre ontdek
die maan se rondings streel
en tussen verdwaalde voetpaadjies
ons siele laat luier en drentel
tot die son se strale oor ons vee.
Ons kan mekaar se hande vat
en sleepsleurend deur die lewe dans,
oeroue ritmes, kloppend in ons harte,
weer vrye teuels gee.
Ons kan aromas inasem
en diep indrink.
In mekaar se sielsvensters loer
en ons diepste menswees
met oorgawe openbaar.
Ons kan oor seerkry-mure klim
dringender deur hartskanse breek
aanhou gee tot weerstand verkrummel
en die ekstase van vryheid,
naak en rou,
soos ń ontluikende roosknop
voor ons lê.
En in die nanag se gloed
kan ons verstrengeld weer asem skep
en heimlik glimlag
tevrede in die wete
dat ons net mens is …
Dat ons net is …

© 2017 ლ – Ƹ̵̡Ӝ̵̨̄Ʒirsten

Skildery deur Nelina Trubach-Moshnikova