Ons almal het ‘n siening .. of twee … of ses – en in hartseer gevalle (soos ek) six hundred and eleventy tenty one sienings en vandag deel ek hierdie enetjie.
Die Newsfeed van Facebook is op galop soos ‘n bronstige merrieperd en dit alles oor die Wiid dame wat haarself uitgespreek het oor homoseksualiteit in haar boek. ‘n Rukkie terug was dit die ‘Oom Angus’ sage … en jare terug Jimmy Swaggart wat iewers oor ‘n tou getrap het (maar as dit nou voor jou tyd was – hou verby) … en moenie vergeet van Ray McCauly se dwalende oog nie!
En so galop ons maar saam … gooi ons sterte in die lug en runnik ons misnoeë ver en wyd. En dit is reg, want daar is net sekere goed wat reg en verkeerd is.
Maar hoekom is ons oordeel so vel? My beskeie opinie is, dat ons ‘mere mortals’ hierdie mense op pedestals plaas want hulle het ‘een of ander’ wysheid wat ons (dink) ons nie het nie. En daarom ‘oooo en aaaaah’ ons en polish hulle onderdele … want hulle is ‘meer geseënd’, ‘slimmer’, ‘heiliger’ of watookal ons dink ons nie is nie.
Daar is ‘n paar basiese waarhede in die lewe (wel vir my) en dit is:
1. Ek glo soos ‘n kind – want dit is wat God van my verwag
2. Behandel mense (man, kind, familie, vriende, kennisse, virtuele vriende) soos ek behandel wil word, en dan is daar gewoonlik nie probleme nie.
3. Vreet minder, dan sal jy nie dik wees nie (pet peeve, waarheid … nog nie reggekry in my lewe nie)
4. Moenie jouself versuip aan drank nie – dan sal jy nie jouself uit familie, vriende, werk, besigheid ens ens drink nie.
5. Moenie rook nie – dan sal jou longe langer hou (pet peeve, waarheid … nog nie reggekry nie)
6. Eet gesond, bly weg van al die lekker stuff soos pasta, brood, suiker (die wit goed) en jy sal nie allerhande siektes kry nie (pet peeve, waarheid … nog nie reggekry)
7. Moenie scaly substances gebruik nie … dan sal jy nie alles in jou lewe verloor … mense sal nie duisende rande hoef te spandeer om jou te help nie … jou familie sal nie geskeur word en uiterste hartseer en verlies beleef nie
8. Moenie skinder nie
9. As jy iets in die lewe wil hê .. werk daarvoor
10. As jy ‘n dieper geloofslewe begeer … lees die Bybel met ‘n oop hart en jy sal antwoorde vind, bespreek vrae met mense … lees op ens ens
11. As jy wil hê jou huwelik/verhouding met enige iemand moet werk … doen moeite
Daar is nog baie, maar ek wil nie ‘n boek skryf nie.
Is daar werklik ‘n ‘meer heilige’ of ‘meer gesalfde’ mens as jy? Moet jy regtig al Joyce Meyer, Gretha Wiid, Angus ens ens se boeke koop en hulle praatjies bywoon as jy weet al die basiese antwoorde lê reeds in jou binneste?
Ons is almal heel goed toegerus vir die lewe (partykeer is die tools begrawe onder goed wat in die lewe gebeur het) maar as ons die moeite doen om diep genoeg te krap, is dit daar om gebruik te word.
Vrouens weet wat hulle moet doen om volwaardig vrou en ma te wees. Ons het nie ‘n Gretha of Joyce nodig om ons te vertel nie.
Mans weet wat hulle moet doen om volwaardig man en pa te wees. Angus is nie nodig om ons te vertel nie.
Ons weet elkeen instinktief wie en wat ons is … ons weet wat ons doel op aarde is. Ons het nie ander mense nodig om ons te vertel nie.
Maar vir een of ander rede MOET ons ‘n lig aan die einde van die tonnel (die Gretha’s, Joyce’s, Angus’s) aangryp en daardie lig volg, aanprys en ophef tot onmoontlike hoogtes en wanneer daardie lig so hoog is dat geen kragdraad hom meer kan bereik, of sy bensien hervul kan word, of sy pit weer herlewe kan word nie … en daardie lig uitdoof, dan gooi ons daardie selfopgehefde lig op die vloer en vertrap hom sodat geen haan later oor hom sal kraai nie.
Ons Hemelse Vader vertel duidelik vir ons – moenie afgode van dinge/mense maak nie. Maar ons luister nie! Ons maak afgode. Net Gretha weet hoe om my huwelik te red. Net Angus weet hoe ek ‘n man kan wees. Net Dr Phil kan my kind help. Net Warren Buffet weet hoe ek my geldkoffers kan volmaak. Net Prof Tim Noakes weet hoe ek maer kan word. Net Allen Carr weet hoe ek kan ophou rook …
Maar meantime – back at the ranch – weet ons eintlik self hoe om hierdie goed te doen. Ons het nie nodig om afgode te skep, aan te hang en hulle koffers te vul sodat hulle vir ons kan vertel wat ons reeds weet nie.
Die dag wanneer ons besef dat elke mens NET ‘n mens is met dieselfde drome, wense, angs, onsekerhede en swakhede … daardie dag sal ons besef … dat ons ons eie pad en drome kan volg sonder weerga. Daardie dag sal ons besef dat die grootste krag tot verandering … beter menswees … groter hoogtes … of net ‘n gewone vervulde lewe … reeds binne elke een van ons lê. Dis wanneer ons nie meer kwaad en verbaas sal wees oor ons afgodjies se sienings nie. Want dan sal dit irrelevant wees.

Skildery deur Lee Hammond