Ek sit toe nou en dink. En dit kan geheel en al gevaarlik wees.

Ek kyk al die prentjies van hoe die mense hulle huise mooimaak. Dit is Granny B hier en Annie Sloan daar en boonop praat hulle van ‘light and dark wax’, ’embellishments’ en allerhande goed wat vir my maar heel Grieks is. Maar mooi, is dit mooi!!
Maar ‘n paar jaar terug was heel ander goed in die mode. Die kleure was helder, weerbarstig, luid, kitch (meer my tipe ding) want ek het mos maar so streep van Antie Stienie weg.

En hier is nou waar die dinkery inkom. Ek dink daar is iewers iemand wat sit en goed uitdink. Die persoon dink … dit is nou tyd om ‘n nuwe ‘craze’ in die mark te stuur, sodat ons ‘n paar rande meer in ons sakke kan steek. Hierna word ontwerpers ingeroep en meubels, kaggelkakkies, muursnuisterye en alles, wat daarmee gepaardgaan, word ontwerp. Die taalmense word ingeroep om name vir die nuwe verfkleure uit te dink … name wat sag op die tong val … name wat om die ‘High Tea Parties’ rondgesprankel kan word in gesprekke soos … “Dahrluings … julle moet sien hoe lyk my foya nou. Ek het vir Paul (stilte terwyl die koppie alwetend geskud word), julle ken mos vir Paul – die nuwe interioure decoratorrr, hy het mos nou die dag Sannie Uppety se hele private boydoor oorgedoen, maar anyhoo, hy kon my gelukkig inpas by sy busy skeduul. Ons het alles oorgedoen in Paloma en Versailles. Dit lyk divine!” (Ligte pers en Beige klink glad nie so opwindend nie)

Dan, kry hulle vir Nataniël om ons te vertel hoe kitch die gedecoupagede skinkbord is en dat blikke, bo-op die kas, heeltemal uit is soos daai snoepstokkies met die kasie, Vienna en uitjie wat in ‘n pynappel gedruk is, by ‘n troue. Hy beduie mooi hoe die nuwe gier, die klinkklare bewys sal wees van jou gekultiveerde opvoeding en dat jou fynbesnaarde sin vir dekor en styl, deur sal skyn soos die sonstrale op ‘n oop vars wintersoggend. En ons almal beaam dit deur winkels toe te jaag met ons eie, en Pappie se kredietkaart – net om seker te maak ons kan alles koop, en voor jy kan sê “Steek weg ouma se doily” is ons huise omgetower in die nuwe gier en almal oooeee en aaaah, met aangeplakte glimlaggies, want die eintlik treur ons omdat ons nou iewers oortyd moet werk om te betaal vir ons oordadigheid.

Vir die wat nie Pappie se kredietkaart kan gaps nie, is daar ook hoop. Elke kunsvlytwinkel bied skielik kursusse aan. Jy trek jou mooiste rokkie aan, verf die naels, tert die gesiggie op en wikkel elke Saterdag af na die naaste kunswinkel waar almal om ‘n tafel sit met ‘n glasie wyn en elke dame dan iets maak. Ons gee nou nie om dat dit alles dieselfde lyk nie, want individualiteit is mos so gister, soos komkommertoebroodjies op ‘n begrafnis.

Ek mis partykeer die dae van ‘hand me downs’ en die huise wat so saamgeflans gelyk het. Huise wat gelyk het asof daar ‘n gesin woon. Huise wat hier en daar ‘n vetkryttekening vertoon. Ek mis die hondjies wat, deur middel van ruilhandel met klere verkry is, van die dames wat van ‘n Checkerssak tot ‘n Streepsak vol ‘jingles and jangles’ op die kop kan balanseer. Ja, ek mis dit. Ek mis ‘off-white’ en ‘egg shell’ mure, net omdat hulle eenvoudig en sonder pretensie was. Ek mis ouma se doily kraletjies wat klingel wanneer jy dit or die glasbeker vol Oroskoeldrank gooi. Ek mis kinders se fietsklokkies in die straat en kampvuur ‘singalongs’. Ek mis die bekoring van eenvoud en die goue gordyne in die sitkamer, wat gereserveer was vir dominee en diaken besoeke. Ek mis dit.
Maar ek het nou nie tyd om hier te sit en myself te verknies oor alles wat ek mis nie! Daar staan ‘n kassie in die hoek van my kamer ‘that is just sceaming ’ vir ‘n lagie kruitverf gevolg deur ‘n gepoetsery met ‘dark wax’.

Ek moet net besluit of dit Emperors Silk of Antoinette gaan wees. Maar ek dink Antoinette gaan hierdie rondte wen, want sy gee mos koek vir die mense … ek like haar.